Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 4

 

In Januarie 1959, drie jaar voor haar afsterwe  skryf Emmarenske nog twee briewe met herrinneringe wat ook behoue gebly.

 

 

 

Geskryf 6.1.1959 deur E.M.P. du Plessis

Oom Hercules Malan het vir Pa gevra hy moet in oom Jaap Trichardt se huis kom bly en middae skool hou, meer vir die lidmaat katkisasie. Ousus het toe in ons huis op Klipfontein gebly. Oorl. Nakkie het in haar huis op Doornpoort gebly by haar skoonmoeder, op die plaas Oom Hans Theunissen se grond, Anna Kirsten se oupa en ouma. Oom Jaap Trichardt het toe in ou Brink se huis gebly. Oom Hercules het toe op Wydhoek gebly, die hele mening was dat my ma toesig moes hou oor sy kinders, want tant Annie en die kinders het baie baklei, sy en oorl. Hans het mekaar met klippe gegooi sodat die ou swart vrou, Seret, altyd moes keer.

 

Katigismus

Ons ek en Lenie (later Stone) het dit baie geniet. Ou aia Seret was die sorg in die huis, die huisvrou het van niks geweet nie of iets versorg nie. Hans Malan het maar meer by ons gebly, geeet en geslaap. Hoe lank ons by Oom Hercules gebly het weet ek nie, ek dink tot Pa die aanstelling as publieke aanklaer op Rustenburg gekry het. Toe het Pa die huis van Ou Landdros Krupp gekoop en toe daar gebly. In daardie tyd het oorlede broer Jan en ek vir aanneming geleer. In die môre vroeg het ons ma ons geroep om te leer, nege uur het ons kerk toe geloop vir die katkisasie, dan het ons by elfuur huis toe gegaan. Ons moes die Kortbegrip Vraeboek van buite leer, ook die eerste vrae van die Katigismus en gedeeltes uit die Bybel en psalm versies. My Ma het vir my n baie mooi swart rok by mev. Schreuders laat maak, die rok was met drie valletjies gemaak, ook die lyfie was baie mooi. Jan het ‘n swart pak aangehad.

Paar jaar daarna het ek begin self my klere maak, ek het my bes gedoen om my klere mooi te maak. Toe ek en Pappie moes trou het ek my so oorwerk met klere maak vir my Ma, Kotie, Josina en Maria dat ek flou geword het en moes vir twee dae in die bed bly.

 

 

Geskryf op 15.1.1959 deur E.M.P. du Plessis

Nou dink ek die 30 Januarie 1910 is sussie gebore. Janniehet vreeslik aan toebors gely. Pappie moes hom by my in die kamer bring, maar was Sussie nie ’n beeldskone baba gewees nie, net ’n poppie gesig, maar dit het nie lank geduur nie toe kry sy stuipe en die skoonheid was verby. So erg was die stuipe dat sy agteroor getrek het, haar ogies het bo op die kop gesit, en die hele koppie het agteroor in die nekkie gehang. Van buite raad het ek mnr. Bodenstein laat roep. Tot heil en seen, dit was nie tien dae, dat daar beterskap in haar toestand was nie. Hy het vyf soorte medisyne gegee, twee moes ek drink en sy drie soorte. Ag, hoe het ons vir haar herstelling gebid, ons gebede en die medisyne het die Here geseen, sy kon toe nie op haar linker sy lê nie, en nou is sy ’n volwasse mens.

 

 

Skoene in die water

Sy het darem snaakse dinge gehad, wou nie’n voorskoot dra nie, ook nie wit skoene nie. Een dag het ek dit vir haar aangetrek, sy het op die bruggie gespeel. Toe ek weer na haar gaan het sy die skoene in die water gegooi en weg was die skoene, sy was baie gelukkig. Nou moes ek bruin skoene gaan koop. Sy en Annetjie het my blomme baie verniel, afgepluk en weer geplant. Ons kinders moes altyd saam kerk toe gaan, sy het by my gesit met haar sakdoekie gespeel, die Dominee se toe die dogtertjie hinder my vreeslik. Daarvandaan het sy by haar Pappie gesit en op sy skoot geslaap.

 

Toe is sy skool toe en het baie fluks geleer, toe sy haar matriek gemaak het, het sy na Stellenbosch gegaan vir musiek en sang, sy het haar eksamens in vier jaar klaar gemaak, toe sy terug kom het sy begin musieklesse gee.

 

Nou moet ek skryf waarvoor ek nie eintlik lus het nie, maar toe maar. Toe ek omtrent 3 jaar oud was het ousus lidmaat geword, dit was ons eerste kerk.  So kan ek onthou, ’n grasdak kerk met pilare dwars deur die kerk, die preekstoel was mooi, dit was die kerk na ons van die Hervormde Kerk afgestig is. Ek weet nie watter jaar dit was nie, nou is ek te oud om soveel jare terug te reken.

 

Ons koms na die dorp weet ek nie meer nie, ook nie die terug gaan nie, ek kan net onthou hoe mooi ousus se ondertabbert was met swart bryding onder haar wit rok. Ek onthou dat agter ousus’n vrou gesit het en die kind het ousus se rok met lekkergoed vuil gemaak. Ek het vir mammie gese en die vrou het die kind toe weg geneem. Wie ons Dominee was weet ek nie, ons hat in die skoolhuis gebly, die ou pastorie was net reg oor die kerk. Ek moes’n strykyster gaan haal by die pastorie en ek het my byna uitasem oor die straat gehardloop vir die yster. Na die aanneming is ons huis toe. Ek onthou een dag het ek in die watervoor geval, ek moes iets in die voor gaan haal, ek het amper versuip. Ons bakoond was buite van klei gemaak, ek dink ek moes ‘n pan by die voor gaan haal toe ek ingeval het. Ek was altyd vreeslik bang en is nog baie bang. Ons het’n baie mooi vrugteboord gehad, baie hoe lemoenbome, en nog hoer okkerneutbome, granaatlaning en datelbome en agter die granaatbome was’n lap aarbeie en dit het altyd vrugte aangehad ons het geeet en skottels vol huistoe gebring.

 

Pappa het die wa onder die lemoenbome getrek, die swartmense en ons het.ingeklim met sakke en dan gepluk en in die wa gegooi. Dan word dit in’n kamer uitgegooi vir die winter. Die okkerneute was net geskud en dan opgetel en ook maar gebêre. Daar was nooit ‘n end aan lemoene en okkerneute nie. Ons wou baie keer nie aan tafel eet nie. Melk het ons volop gehad ook vaatjies botter. Die botter het altyd dorp toe   gegaan vir die Dominee en ou Landdros Brink. My ma het ook baie ganse gehad en as die wyfies broei dan was die mannetjies baie kwaai, mens moes net uitlê vir hulle. Een aand was daar aan die kombuisdeur ‘n harde geklop, my ma gaan kyk wie klop daar en dit was ‘n swartman. My ma ruk die deur met die geweer in die hand en vra wat wil jy hê? Die swartman kom die kombuishelpertjie haal hy moes skool toe gaan, ek dink dit was die swartmensekool. My ma sê vir hom hy moet more kom, hy is toe weg en die more het hy hom kom haal.

 

Brandkluis diewe

Pa was altyd weg om die opgaaf in te vorder toe. Ek was omtrent vyftien jaar en een nag het ek by Martha by die pastorie geslaap, dit was’n Saterdagaand. Ek het vroeg opgestaan toe ek voor die poskantoor kom sien ek net geld. Toe het die diewe die brandkluis uit die kantoor gehaal en die brandkas buite oopgemaak. Hoe weet ek nie, maar die geld het net rond gelê. Ek hardloop huistoe om te gaan vertel, ek kom toe al vir Pappa teë, die diewe het net gewag tot die opgaaf in die kantoor was. Hulle het ’n paar duisend ponde gevat, die silwer het hulle laat lê.

 

Getroud

Ek was maar ‘n gewone jong meisie, so as in daardie tyd jong meisies maar was. Ek was maar jonk toe is ek met my man Th.C.d.P. getroud in 1898 (my vader is toe as Landdros verkies in Pietersburg, en toe destyds mag ’n publieke aanklaer nie ongetroud wees nie, omdat daar sake in die hof moes plaasvind, wat vir ‘n ongetroude nie goed was nie, so het die destydse regering besluit, of wat die rede was weet ek nie juis nie). In 1898 is ons op 5 Oktober getroud en 1899 die 24ste Augustus is ons eerste kindjie gebore. [Hendrik Johannes Marthinus du Plessis; red.]

 

 

Boereoorlog

Die 11.10.1899 is die Boereoorlog geproklameer. Na die tyd was my man na Natal op verlof en het by die Boere Kommando aangesluit. Ek was toe in Pietersburg by my ouers, my man het van Natal na my toe gekom. Ons is toe met die poskoets terug tot op Potgietersrus en verder per trein na Pretoria. Ons rytuig het in Pretoria gebly. Ons het toe op die derde dag in Rustenburg aangekom. Later toe Pretoria moes oorgee aan die Britte het my oudste broer D.E.E. Heystek(wat nog leef) na ons toe gekom, gevlug. Hy en sy vrou, ’n meisie Henning.

 

Hy, sy vrou ’n meisie Henning. Die Engelse het daarop ook Rustenburg ingeneem, toe weer die dorp verlaat en so het dit aangegaan. My man is toe gevang en weggestuur na Bermuda, maar by het by Laingsburg van die trein afgespring en so tussen die Engelse deurgesukkel, tot weer by ons huis. Die nag voordat by terug is kry ek in my droom’n brief in ‘n blou koevert, toe my man weg moes gaan na Bermuda het hy vir my gesê ek sal van die trein afspring en terug kom. Nou toe was ek nog sekerder dat by sou terug kom. Dieselfde aand toe ons eet vertel ek vir Ouboet van die brief, by lag toe en sê nee wat, jy moet Theunis nie verwag nie, hy is een van die dae in Bermuda. Ek se toe nee hulle is drie wat kom, kyk die kers het drie spruitjies en daardie aand kon ek nie slaap nie, ek steek weer die kers aan en lees in my Bybel, maar ek verwag my man. Ek was net van moegheid aan die slaap, klop hy aan die venster, ek spring op en sê is dit Theuni?

 

Dorp in drie kampe

Toe het dit so gegaan, dan is die Engelse in die dorp en dan weer die Boere. Die dorp se bewoners was in drie kampe verdeel. Die Vryheids-boeregesindes aan die een kant was erg verbitterd oor die grusame nuus van die moord te Derdepoort. Hulle het dit ook goed ingevryf aan diegene wat met die oorlog niks te doen wou hê nie. Die onsydiges, wat by die huis gesit het en die oorlog by hulle laat verby gaan het met moontlike finansiele voordeel deur die handel wat die magte aan weerskante bied. Dan was daar die Engels-gesindes wat nou gevaar geloop het om as vyande beskou te word, nou dat die Engelse uitgedryf is. Die drie groepe het langs mekaar, saam met mekaar gewoon, soms was die verdeling in dieselfde huisgesin.

 

Aan die einde van die Derdepoort-veldtop het Cas du Plessis met sy kommando verlof om terug te keer huistoe, na Rustenburg, saam met ‘naantal manskappe met die doel om die Engelse wat intussen die dorp ingeneem het daar uit te dryf. Die grusame moord te Derdepoort was nog vars in die geheue en vasberade trek die boereruiters om Pilansberg op die dorp af. Die Engelse wagte het die aantog sien kom en dit raadsaam geag om hulle militere pos by die tronk te ontruim en die randjies en Magaliesberg in te vlug aan die suidwestelike kant van die dorp. Die boere het hulle agterna gesit en’n geveg vind plaas waarin Kommandant Cas du Plessis’n wond in die sy kry, wat egter nie ernstig was nie. Vermoeid keer die Boere teen skemer terug in die dorp. Elkeen kry verlof om by sy eie huis te gaan slaap, terwyl ’n wagpos die Engelse aan die buitewyke moesd ophou. Uitgeput van die ontberings by Derdepoort, die lang rit terug na Rustenburg en die skermutselings in die Magaliesberg uitlopers, het Theunis du Plessisdaardie aand heerlik in 'n verebed in sy eie woonhuis gaan slaap. Hy was meer as welkom as vader, want die eerste van die gesin was reeds gebore. Vertrouende op die vroegtydige alarm van die wagte kon by daardie nag heerlik slaap.

 

Slot

 

Lees ook

Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 1

Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 2

Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 3

 

Deze publicatie in de Afrikaanse taal is mogelijk geworden dankzij de medewerking van mw. Marie Hattingh (Rayton, Zuid-Afrika). Zij heeft schrijffouten in de teksten gecorrigeerd.