Vertaal/Translate/Select your language

Vinaora Visitors Counter

874668
Vandaag
Gisteren
Deze week
Vorige week
Deze maand
Vorige maand
Alles
132
496
2787
413905
2246
16718
874668

Your IP: 3.231.220.225
2020-06-05 05:49

Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 3

 

Die Boere vroue het 'n sterk wil om te oorleef. In die kampe moes hulle sukkel om te oorleef. Die geluk was ook nie altyd aan hul kant nie. Haar seuntjie Hennie sterf in 1901 toe hy nog maar twee jaar oud is. Die hartseer is groot en nie te beskryf nie.

 

 

Na Mafeking

Eers wil ek vertel van Swartruggens, toe die laer daar oor trek het hulle mev. Hans Glathaar se familie, en verskeie ander ook saamgevat. Van haar huisraad het die Tommies weer onder die vrouens ingedeel. Onder andere het hulle vir my’n bybel, panne, strykyster en stoel en nog ander goed gebring. Ek het toe ons in die kamp was weer vir haar party wat sy wou hê terug gegee. Maar die ergste wat ons raakgesien het, was dat die Tommies mev. Glathaar se baba kleertjies vir die otjies aangetrek het. Die wit lang geborduurde rokkies, so ver as hulle ry uf uf die varkies. Sulke dinge gee ’n mens tog hartseer en kan jy ook soms nie jou lag hou nie. Die meule het hulle opgeblaas en alles rondom verder verniel, vir al daardie tyd moes ons op die kaal waens sit, om in die son te sit en al die ellende aan te sien en te hoor vat baie moed. Die klein kindertjies was al so ontevrede, honger, dors en swaar sit, dit is alles wat hulle moes uithou. Al wat die kinders tevrede gehou het, is ons het aan hulle vertel dat die kakies moordenaars is. Feitlik het hulle ook al die gruweldade gesien, dan troos ons hulle om te sê hulle pappies en al die boere sal die kakies ook doodskiet. As ons dan weer so oor klippe, stompe en omgekapte bome moet ry, die waens gooi ’n mens die een teen die ander en jy moet net klou om bo te bly. So het ons van Wysfontein tot Mafeking twee weke rond geswerf, ons het op 'n Maandag op Mafeking 

aangekom. Die Sondag tevore het ons by Zeerust begin waar ons Saterdagaand teen sononder aangekom het. Hulle het ons in die lang rooi stoor afgesit, seker so vyftien of twintig families. So vuil, ag dit was vreeslik. Ons trap tot oor ons hakke in die rooi stof. Later hoor ons dit was’n gebou waar die tommies altyd in was, en toe tel ons nog ook luise daar op, gha dit was’n ellende. Een familie het hulle ook by ons afgelaai die man was’n indiër  wat met’n doofstom Afrikaanse Engelse vrou getroud was. Sy het ook ‘n blinde suster by haar gehad,  ook twee indiër kinders. Ons het hulle dadelik laat verstaan dat ons hulle nie tussen ons wil hê  nie, hulle moes toe padgee. Nou ja! Hoe moet ons in die vuil hok gaan slaap? Ons het toe maar water aangedra, die vloer nat gegooi en so goed as ons kon die ergste sand en stof uitgedra. So as ek gesê het vroeg die môre was daar weer waens om ons weg te vat, ons het nooit geweet waarheen ons moet gaan nie. As die alarm blaas moet ons op en trek. Die keer het ons tog ‘n agtertentwa gekry. Op ’n plein het hulle al die waens langs mekaar getrek en begin (na seker twee uur) vrot kakie beskuit uitdeel. Ons was so kwaad toe ons die vrot beskuit kry dat ons die tommies wat dit gebring het daarmee gooi.

 

Greathead die landmeter van Rustenburg was bevelvoerende offisier. Hannie Botha het hom so ingevlieg. Sleg gesê, hy wou nog die boere sleg maak. Toe sy vir hom sê,  jy wat met ’n swart vrou leef, wil jy nog praat? Hy is toe sommer weg. Ons moes maar net so leë maag ry. Ek wil darem vertel dat elke aand waar ons vetkoek bak ek een van myne of ’n stuk as ons min het in een van my seuntjie se skoon gewaste broekies toe draai om vir hom die volgende more iets te hê. Want so as ek gesê het, het ons nooit uitgespan voor die middag laat nie. Ek het geweet dat die ander hongerige kinders nie tussen sy broekies kos sal soek nie. Die aand van daardie dag was ons almal vreeslik honger. Die kinders huil, ons as moeders voel so terneergedruk. Ons wens toe nog meer as ooit dat die oorlog’n einde moet kry. Die kinders van my susters Erasmus, Roets, Theunissen het tussen die muile gaan mieliegruis optel. Ons het dit gewas en gaar gemaak. Toe vertel Ellie Erasmus my dat naby die offisier se tent word  ‘n vet bees geslag.

 

 

Ons wil vleis hê

Ek sê vir my oudste suster mev. Roets, kom gaan saam na die offisiere se tente. Ek hoor daar word ’n vet bees geslag, ek wil gaan vleis haal. Toe ons ‘n end  aankom sien ons net Tommies en swartmense om die bees. Die offisiere sit buite die een tent en was hulle nie verbaas toe hulle ons sien. Ek kom of moes by die slagtery verby. Ek sê vir die slagter ek wil vleis hê. Ek kom haal vleis, een offisier staan op en kom na ons toe en vra vir die slagter wat ek sê.

Hy sê toe, die offisier kry so’n droë laggie, en vra of ons saam gaan na agter. Ousus was bang, ek sê vir haar ons gaan nie in die tent nie, ons sal buite sit of staan. So het ons ook gedoen. Toe sê ek na’n halfuur of korter, ons moet gaan want ons is baie honger en die kinders huil al van die honger. Ek staan op en sê: ek wil vleis hê om te gaan gaar maak. Hy sê hy is ook baie honger, ek sê maar jy is ’n man veral ’n soldaat is gewoon om min te eet. Nog’n paar woorde gewissel toe sê ek kom ons gaan. Ek sê vir hom hy moet order gee dat ons’n stuk vleis moet kry. Hy roep na die slagter om ’n stuk vleis te bring. Dit was te klein na my sin, ek sê toe nee.  Ons wil vir ses families hê. Hy lag en sê of ek dan’n hele boud wil hê. Ek sê ag die helfte van die bees sal genoeg wees. Hy gee toe weer order vir nog ’n stuk en so het die afval mieliegruis en vleis ’n heerlike ete gewees. Die anderdagmôre weer vroeg op, om twee of drie uur was ons toe op die kampplek. Op die kaal kalkbult word ons afgesit en word bekend gestel dat ons daar op die bult by die lang sink gebou kos kan gaan ontvang. Dit word toe my lot saam met Hannie Erasmus (de Ridder), Hannie van Rooyen (Botha) om te gaan kos haal. Ja was dit maar gaan kos haal. Ons moes staan tot byna sononder vir ‘n geroeste bulliebeefblikkie

½ lb,’n blikkie kondensmelk wat ’n week moes hou, en omtrent 3 lbs meel, wat so van die blou en lig roosrooi (pink ) stukkies was, en toe moes ons gaan. Ons vra vir hout (want ons was aangesê om nie verder as die aangewese lyne te gaan nie). Die antwoord was julle mans breek die spoorlyn en ons kan nie hout deurkry nie. Ons moes maar gaan mis optel om gaar kos te kry.

 

 

So het dit vir maande aangegaan, dan kry ons ’n paar lbs. hout (natuurlik net so nat en groen as wat die boom afgemaak is) en dan is die treinspoor weer stukkend (al moes ons ook sukkel, ons is te bly as die spoorlyn gebreek is). Later het die boere nie meer die spoorlyn gebreek nie, seker om ons hout en kos voorraad nie te belemmer nie. Ons putte wat op die wal van die Malmanie gegrawe was, was so vlak en min water gehad, dat met die tiende kakie kastrol (die langwerpige goed en vreeslik moeilik om water mee te skep) dan is die eerste water meer as die helfte modder. Ons familie wat in vier ronde tente moes woon, het altyd ons water deur doek gegooi, vir ’n paar uur laat staan en dan weer deur die doek en dan gekook. Ons moes natuurlik sorg vir’n voorraad wat kon oorstaan en die hol goed was tog baie skaars.

Ons het toe permitte gekry (ek dink ek het nog so ‘n verslyte) om na Mafeking die dorp te  gaan. Die nodigste goedjies wat ons kon betaal het ons gekoop, maar duur, want hulle het geweet ons kan nie op’n ander plek iets kry nie. Ons gaan dan gewoonlik so tien of meer vrouens. So het die dae vol verwagting op hulp van die Duitsers van Duitswes omgegaan. Ons het ook geweet dat die President na Europa is om hulp te vra, so het die berig deur die kamp gegaan. Een môre vroeg was alles in rep en roer. Dit praat en huil deurmekaar, want net onder die kamp aan die rivier was’n plasie, Wilgerdam was die naam daarvan. Ons het eendag’n trollie gehuur en daarheen vir die dag gegaan. Toe was die kamp se lyn nog tot daar. Ag dit was tog baie aangenaam om groen te sien, die pragtige wilgerbome, dammetjie water, groen langs die riviertjie.

 

Skape

Nou nadat mnr. Hans Glathaar en Tönsing wapen neergelê het, het hulle daar gaan bly en moes dan ook skape van die kakies daar oppas of laat oppas. Hulle mag daar boer. Die gesegde môre kom die twee mans ingevlug na ons kamp toe (hulle vrouens was in die kamp) en sê dat daar boere is. Al die skape en beeste het hulle gevat, die een het met sy onderbroek ingevlug, die ander een met sy hemp, natuurlik so uit hulle beddens, die son was nog nie op nie, ook nog nie eens goed lig nie.’n Kort tydjie daarna gaan die kakies aan die oorkant van die rivier (van die kamp af met kanonne die rigting in, na die westekant) maar ek dink die boere was al in ’n ander rigting in, ons het nie weer iets gehoor nie. 

Ons het nie eens geglo dat die Boere die skape kon meeneem nie, want die arme goed was so vasgekeer op die kaal bulte dat hulle aan bloutong en haarwurm gely het. Die skape was dan ook vir ons geslag. Die vleis was so ellendig, dat ons dit nie kon eet nie, ek self het deur 'n rooikruis dokter Redhead my vleis van die dorp af laat kom twee keer ’n week. Ook het hy medisyne, ensovoorts vir ons daar gekoop en gebring. My skoonmoeder en ek met my seuntjie het saam in een tent gebly, dus kon ons met die vleis klaarkom. Ons moes altyd alles gaan kook, die volgende dag weer kook, want dit was so warm dat geen kos in die tente kon hou nie. Ons het maar kakiekomberse buite op die tente met spelde aanmekaar gesteek, vasgemaak, party keer skeur die komberse los, want daar het die wind vreeslik gewaai. So erg dat die kalkklippe rond waai, ons was baie keer so deur die klippe geslaan net so as hael. Die vrouens en meisies moes almal kappies dra, die wind en son tras so erg dat ons nie hoede kon opsit nie.

 

Baie erger as aan die see. Dié môre het ons regtig gedink dat die Duitsers saam met mense Boere by Wilgerdam was, en het ons tog nie op verlossing gewag nie, maar weer te vergeefs geloop, en tog was ons bly dat die boere die hensoppers so gejaag het.

 

Nou iets oor die bloutong skape. Die hensoppermans moes die skape slag, die order was hulle moes elke dag die swakstes vang want die ander kon nog hou. Op ’n dag het ’n lot vrouens afspraak gemaak dat ons die kamp Kommandant met die vleis moes gaan doodslaan. Mev. Phlippina Roos was die leier van ons. Ons was omtrent dertig vrouens, wat die afspraak gemaak het. Die môre moes ons weer rantsoene ontvang. Vleis onder andere ook. Na ons die vleis ontvang het stap ons na die Kommandant se kantoor, vra om hom te sien. Hy kom uit, staan onder sy varenda. Die ou vrou begin met hom praat. Ons afspraak was sy alleen moes praat, dan moet ons vir hom die vleis wys en sodoende betrap en dan met die vleis slaan. Toe een vrou van agter af skreeu “slaat hom” - ou Tante Roos so was sy in die wandeling genoem, toe sy voor hom staan, ons het altyd stadig nader gekom - hy vlieg by die deur in, maar toe vlieg die stukke vleis agter hom aan, na ons omgedraai het hang die vleis so as vlermuise aan sy deur en huis, wanneer hy dit laat aftrek het weet ons nie. Ou tante Roos roep na hom en sê hy moet nie so’n lafaard wees nie. Hy moet uitkom, maar daaraan het hy hom nie gewaag nie. So het ons baie keer ook grappe gehad, partykeer baie lyding en smart, maar daarna kon ons weer lag.

 

’n Wrede postmeester

Een môre gaan ons briewe vra. Hannie Erasmus, Hannie Botha en ek, ons staan voor die venster waar ons die pos moet ontvang. ’n. Erasmus was die naaste, en sal die ellendige posmeester dan nie die brutaliteit hê om aan Hannie Erasmus se borste te gryp, maar tegelyk kry hy van haar’n vuisslag in sy bakkies dat hy steier. Hy word kwaad, want ons lag toe so oor die slag in sy gesig dat hy nie ons briewe wou gee nie. Ek dreig hom toe met te sê ons sal dorp toe gaan om te kla, hy gooi toe die briewe na ons toe, maar van daardie dag af het hy nie weer probeer om iets gemeens te doen nie.

 

Straf vir Pertoors

In die kamp by ons was sekere Pretoriusse, wat Pertoors genoem was. Ons het gehoor dat hulle van Marico af kom. Die een jong man, so ongeveer een of twee-en-twintig was as 'n soort opsigter aangestel. Hy het altyd met 'n perdesweepie rondgeloop en teen sy kamaste geklap, om te sien dat die vrouens nie mekaar verdring by die rantsoenvenster nie. Op’n dag met die ontvangs van rantsoene, was hy weer daar so as gewoonlik. Die môre was dit baie warm, die sinkmuur voor in die gesig agter die balk wat omtrent 'n voet en half van die sinkmuur was, het die gedruk erg gegaan. Die mense skreeu moet nie so indruk nie (die kinders het altyd vreeslik ingedruk) en hy begin sommer met die sweep oor die mense (mees vrouens en meisies) se koppe slaan. Een arme ou vrou (sy het niemand anders gehad om vir haar kos te gaan ontvang nie) sy moes self alles gaan ontvang, en die ellendige Pertoors slaan haar so hard oor haar skouers dat sy hard aan huile gaan en vir hom sê: “wag maar God sal jou straf”. Ek was so 'n end van hom af en sê, wag maar ons sal jou laat boet daarvoor. Hy het my goed geken, maar kon my nie sien nie, want daar was’n paar honderd mense.

’n Paar dae daarna, dit was Saterdagmiddag (my werkplek was Saterdagmiddag toe). My oudste suster toe mev. Roets nou mev. Rootman maak saam met my afspraak om twaalfvinger Pertoors (hy het klein pinkies aan sy pinkies gehad) uit te betaal. Ons gaan saam om meel te ontvang. Toe ons tussen die bol mense in staan (natuurlik druk die agterste mense altyd aan ) was daar tussenin ook mans (makkakies) en party het sulke growwe woorde gesê en aanmerkings oor die vrouens gehad dat daar goeie woordewisseling gekom het.

Nou ja! Twaalfvinger was natuurlik weer daar, hoe dit ter sprake gekom het weet ek nie meer goed nie, maar twaalfvinger sê: "ja, ‘n aasvoël is’n slegte ding, maar’n boervrou is nog slegter". Ek kyk hom toe in sy oë en sê vir hom: “vandag sal jy weet wat’n boervrou is”. Ons het by die westekant se deur ingegaan en weer by die oostedeur uit, toe ons uitkom was hy ook daar. My suster en ek sit tegelyk ons meel neer, skep met ons dubbele hande sand en skiet dit in sy bakkies. Hy wou net weer praat en kry die hande sand in sy bakkies - en ons skep en gooi. Van binne af moes van die mense kom om hom in die gebou te lei. Hulle moes ook net oë toeknyp, om ook nie sand in die oë te kry nie. Pertoorsie moes ingevat word na die dorpshospitaal om oë en mond uitgewas te kry. Sy ore was net so verstop. Twee dae daarna was vyf pond uitgeloof vir die een wat die sand gegooi het se name kon noem. So het dit vir twee weke aangehou (ek het elke dag na my werk gegaan). As dit heeltemal lig is begin ek die tente opneem, die behoeftes van klere, lakens slope ens. op te skryf. Teen agtuur moes ek terug wees vir ete, nege uur moes ek by die winkel wees, Relief Store genoem. Dan moes ek en twee meisies die materiaal af jaarts, pakke maak, elke vrou se naam en tent adres daarop sit, die mense moes dit self kom haal. Die vrou wat die bestuur gehad het was mev.Glyson, ’n Engelse dame. Die ander twee dames en ook ek moes vir £3 in die maand werk. Ek was maar dankbaar, want sodoende het ek altyd’n bietjie geld gehad om ander kos by te koop.

 

Nou moet ek weer terug op Pertoors gaan. Een dag kom hy by ons in die werkplek, ek vra hom het jy al uitgevind wie die persone is wat jou met sand gegooi het. Hy se nee! Ek sê hom toe reguit: Petoors (so was hy genoem) ek is die persoon. Hy wou dit nie glo nie, maar later het hy dit ook van ander gehoor en moes dit glo. Daarna was Pertoorsie baie beleef en goed vir die vroumense en kinders.

 

Siektes in die kamp

Ons het ook grappe gehad.’n Sekere Nortje was verlief op ‘n ou weduvrou. Op ’n dag kom oom Daan Mostert ook rantsoen ontvang. Hy sê ons toe dat ou Nortje gister getroud is. Oom Daan vra hom toe hoe het die boedel nog reggekom. Die ou antwoord, sy klein swart helpertjie het geteken vir getuie. Na die oorlog het ons per ongeluk in geselskap die ou ontmoet, sy baard het gegroei, en het hom nie geken nie. Toe vertel ek die gebeurtenis voor hom aan vriende terwyl hy daar sit. Die mense het so gelag en ek het sleg gevoel toe Roelf van Tonder sê dit is oom Andries wat hier sit, die ou man sê toe net "wat kon ek anders doen". Oom Daantjie sit toe ook in die geselskap. Die Lichtenburgers het met masels in die kamp gekom, dit was’n pes van masels en honderde kinders en ook grootmense het daaraan gesterf. Ousus se jongste dogtertjie, Nakkie se enigste dogtertjie, Martha (Martie Enslin se ma) se seuntjie, Ousus Sarie van Helsdingen se seun, Sus Annie en Sus Hannie se dogtertjies is ook aan die masels dood. Nakkie het self masels gekry terwyl sy in verwagting was, almal moes op die koue grond net met’n kakiekombers slaap. Tant Emmie se vyf kinders in twee weke tyd. Ag, en soveel bekendes, te veel om op te skryf. Op die 10de Oktober het my Henniesiek geword en is die Desember oorlede. Hy het toe bloedtering gekry, Sy tandjies het swart en sy hele mond. Ook sy magie het swart geword en so uitgeteer dat daar geen vleis aan sy lyfie was nie. Die dermpies kon mens van buite sien lê. As daar ’n windjie in rond gaan het dit so as ’n albaster gelyk wat daarin rond rol. Hy kon ‘n maand voor sy dood nie meer praat nie. Net ‘n geluidjie gemaak of hy hik. Ag! Dit was ‘n smartlike lyding en smartlik om aan te sien. Kan ek ooit die Engelse vergewe. Alles is nou weer nuut voor my gees en ek sien alles weer so as dit was, die vreeslike lyding, wie kan dit vergeet! Pappie was baie aangedaan toe hy in die kamp kom en Hennie is oorlede. (Na die vrede).

 

Word vervolg

 

Lees ook

Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 1

Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 2

Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 4

 

Deze publicatie in de Afrikaanse taal is mogelijk geworden dankzij de medewerking van mw. Marie Hattingh (Rayton, Zuid-Afrika). Zij heeft schrijffouten in de teksten gecorrigeerd.

 

 
 
 

Plaats reactie


Beveiligingscode
Vernieuwen