Vertaal/Translate/Select your language

Vinaora Visitors Counter

874656
Vandaag
Gisteren
Deze week
Vorige week
Deze maand
Vorige maand
Alles
120
496
2775
413905
2234
16718
874656

Your IP: 3.231.220.225
2020-06-05 05:24

Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 2

 

In 1899 breek die Anglo-Boereoorlog uit, waarin die almagtige Britse Empire die wapen opneem teen twee klein Boererepublieke in Suid-Afrika. Die uitkoms van hierdie ongelyke stryd staan van die begin af aan vas. Tog het daarin die Boere daarin geslaag om die 'rooinekke' mee te sleur in jarelange konflik, met groot gevolge.

In deel 2 van haar relaas beskryf Emmarenske ander ervarings, te begin met die vierkleurvlag.

 

 

Vierkleurvlag

Ek het vergeet om te vertel die dag toe my man na die kommandant was - is my suster en ek in die dorp met ’n Vierkleurvlag. My oudste seuntjie was nog nie ’n jaar nie, ek het die vlag in die kinderwaentjie, die Engelse het die spinnekop (Union Jack – Engelse landsvlag) aan die paal voor die landdroskantoor vergeet. Nouja ons twee, my suster mev. Lampen en ek pluk die spinnekop af en skeur dit stukkend. Laat lê die flenters sommer rond. En daar gaan ons nooit vergete vierkleur op teen die paal - waar die vierkleur vir jare gewapper het - nog voor die dag gedaal het was die spinnekop weer teen die paal opgetrek en ek wonder watter Engelsman het miskien vandag nog die Vierkleur. Voor ons die Vierkleur gaan ophang het, het ek eers aan my vlagpaal ook’n vlag gehang. (Die vlag was nog in my huis toe ek uitgestuur is). Die dag het toe in angs en ergernis gedaal. Die volgende dag is my man gevange geneem. My man het vir my gesê dat hy sal wegloop van die Kakies af, na my mening sou hy hier tussen Rustenburg en Pretoria ontsnap het. Hy is toe van Laingsburg van die trein - oop trokke - afgespring, hulle was drie, hy, sy broer Michiel en Johannes Riekert. Net ’n maand was hulle weg toe hy weer hier aangekom het. My stiefbroer, sy vrou en’n niggie van my skoonsuster (Vienie Greyling) was by my in huis. My oudste kindjie was 13 maande oud.

 

’N Droom. ‘n waarheid

Twee weke na die wegvoering van my man kom hier’n berig dat Generaal de Wet die spoor gebreek het en al die gevange burgers het hy bevry en dat dit Rustenburgers is. Ek laat my spider uittrek en die perd inspan (die perd was ‘n groot geel perd met lang swart mane en stert, een van Jamesonse kanonperde) my kindjie en ek en my kleinjong op en ek is aan die rye. Nou na Buffelshoek omtrent 15 myl hier vandaan. Toe ek by my skoonmoeder se huis aankom was almal sterk daarop teë. Die tyd was die dorp weer in besit van die boere, hulle maak beswaar dat ek die Engelse langs die pad kan kry en dan sal hulle die perd vat en wat word van my en my kind? Ons besluit toe saam dat ek die kleinjong met ’n briefie oor die berg sal stuur om nader berig te kry. Die antwoord was dat dit burgers van Potchefstroom was. Ek was so moedeloos, maar skep weer moed en was vol verwagting - as Potchefstroom se mense ontset kan word. Waarom ook nie Rustenburg sin nie? Daardie twee weke was ek vol verwagting, maak huis skoon ekstra ook vir afwisseling. Een aand sit ons en eet o.a. my broer Danie Heystek, sy vrou, die Vienie aan die kers kom drie rooi spruitjies, ek maak die opmerking bloot vir ’n grap en sê kyk die kers, Theunis sal gou kom. My broer sê, ag hy is al op die see. So iets maak tog baie seer, dit laat al die hoop en verwagting weg vlieg. Gelukkig toe ek jonk was het ek baie moed gehad. Saterdag voor my man die aand tuis kom, het ek spesiaal vir hom blomme in die water gesit. Eers wil ek nog ’n bygelofie vertel. Donderdag nag droom ek dat ek ‘n blou brief deur die pos kry, toe ek dit oop breek word ek wakker. Die Saterdagaand kon ek nie slaap nie. Na ek ’n paar hoofstukke uit die Bybel gelees het lê ek en dink hoe sal dit wees as Theunis kom - twaalf uur klop iemand aan my venster en ek vra dadelik "Theunis is dit jy!" Hy antwoord ja. Ek vlieg na die deur en roep tegelyk na my broer en sê “Ouboet hier is Theunis”. Hy vlieg ook op en ag was die blydskap nie groot nie. Heerlike paar dagies was ons bymekaar. Tien dae, die elfde dag gaan hy en sy twee broers uit om lemoene van ons plaas te haal (Wysfontein), die volgende dag moes hulle terug wees, en daardie môre - hier maak Kakie weer sy verskyning, ek moes in alle haas weer die klein swartman met ’n briefie hulle tegemoet stuur om te sê dat die Engelse in die dorp is. Wat ‘n teleurstelling. Paar dae daarna was die Engelse offisier hier by my om te vra ek moet uitgaan om my man, broers (broer Jan en ouboet, twee was in die veld, en drie swaers) te gaan beweeg om wapen af te lê.

 

Na Paardekraal

Hulle sal my uitstuur met ses gewapende soldate en my weer veilig laat terug kom. Ek sê toe ja ek sal - maar ek sal nie weer terug kom nie. Toe sê die offisier nee dan kan ek nie gaan nie. Daarna het twee van hulle gereeld na my huis gekom. Altyd altyd met ‘n soort van ‘n ekskuus, naamlik die Kommandant en sy onderoffisier Kol. Graham en Lister. Na dit so aangegaan het wou ek nie na vore kom as ek hoor dat hulle in die voorkamer is nie. Later het ek self met my skoonsuster daaroor gepraat en gesê, ek wil nie meer die vyand in my huis ontvang nie. My man en broers staan in die son, reent en hou allerhande ontberings uit, en dan kom hulle hier by ons in die huis sit en drink tee. Nou moet dit nie weer gebeur nie.Twee weke daarna ontvang ek - op Maandagmôre, ‘n kennisgewing dat ek my gereed moet hou om Dinsdagmôre uit die dorp te gaan. (Ek het baie koorn(koring) gehad, selfs heelveel ander eetware, ek kon nog vir ten minstens ’n jaar daarmee klaargekom het, maar ek mag nie meer as vir ‘n week saamneem nie, ook nie veel beddegoed en klere nie). Dinsdagmôre het aangebreek. Op’n kaal lorrie het hulle ‘n paar trommels en reissakke vir my opgesit, nie eers ’n stoel wat ek mag meeneem nie, maar my baba se waentjie moes hulle oplaai. Drie myl anderkant die dorp het die lorrie stilgehou (op die plaas Paardekraal) ons is sommer op die werf van ‘n mev. v.d. Berg afgesit, ons goed afgegooi.

 

Slag ‘n gans

Ons was vier families, drie families Riekert, ou Mev. Riekert met ‘n getroude dogter wat weduwee was en vyf kinders het saam met my by mev. Soppie de Beer drie kamers gekry. Ons was binne drie weke sonder kos, want die kinders het baie geëet. Op die plaas was ongeveer agt families wat daar nog in hulle huise gewoon het. Ou Mnr. Hermitage was van die Engelse daar aangestel as spioen, hy kon vir ons permitte gee om in te gaan (stap-loop) dorp toe vir kos. Mev. Berg, dogter van mevrou Riekert, en ek het na baie praat ’n permit gekry, ek het my babatjie in sy waentjie en sit af dorp toe. My susters Mev. Lampen en Theunissen woon toe nog in die dorp, hulle had boerbeskuit, biltong en nog meer ander kos vir my gegee, maar in ’n huis waar soveel kinders is kan kos nie hou nie. Elke dag tot twee keer op ’n dag kom Engelse swartmense na ons huise toe, vang van die skaap of hoenders neem dit met hulle mee. En tog snaaks is die ou Mev. de Beer te suinig om self te slag of teen ’n geringe prys aan ons af te staan. Nee sy het haar verbeel dat dit sal gespaar bly tot die vrede. Ons het ten laaste ’n gans by haar gekoop, dit was tog te naar om dood te maak, ek het die gans gehou met sy nek op ’n blok. Mev.Goosen, die weduwee dogter van mev. Riekert, ek sal haar nou maar op haar naam noem (Bettie) moes met die groot houtbyl die nek afkap. Ek los die arme dier, gelukkig was daar’n groot klipplaat sodoende het die nek nie vol sand geword nie. Ons moes elke dag mielies stamp, my hande was so teer, ek was nie gewoon om sulke harde werk te doen nie, dat die bloed aan die stamper gesit het as ek klaar was. En toe nog van die slegte etes het ek ’n dissentrie gekry, so erg dat ek ’n dokter moes laat uitkom (Dr. Andel). Een aand kom jong mevrou Riekert aangeloop by ons (ons verblyf was omtrent vier honderd tree van mekaar af) en sê hier is boere in die koppetjies.

 

Huise aan die brand

Ongelukkig was my man nie daarby nie. Twee van my swaers was by die mans, ons het toe’n uur of so net hulle gesels, toe moes hulle gaan. Dit was baie onveilig, ons moes by die ou spioen se huis verby. Gelukkig hy was al oud en het saans vroeg gaan slaap. Ongeveer tien of twaalf dae daarna gebeure daar skielik een aand iets ernstigs. Dit was’n Donderdagaand. Ons huis waarin ons kamers in had se gesig wysuit op mev. Koos van Staden en mev. Korps se huise. Ons sien mev. van Staden se huis aan die brand – hoor ’n huil, sy vlug met haar kinders,’n stuk of vyf van haar buurvrou mev. Korps wat ook seker vyf of ses kinders gehad het. Nie driekwartier daarna brand mev. Korps se huis en die gehuil en gekerm van kinders kom nader deur die rivier. Hulle vlug toe na mev. Hermitage (dit is die skoondogter van die ou spioen Hermitage). Ons staan nog op die stoep en luister toe twee vroue Korps en van Staden by ons aankom met die huilende kinders (wat ook nog seer oë het) by ons aankom en sê die swartmense is deur die rivier aan kome. Dit is die Engelse spioen swartmense. Hulle vat alles en steek die huise aan die brand, ons moet vlug. Net toe kom mev. Hermitage ook met haar drie kinders aan, sy vertel die swartmense is in hulle huis (dronk) en haar skoonvader weier om ook te vlug. Net val ’n skoot by haar huis. Ek hol in die kamer en gryp my kind, hy het al geslaap, hy was in sy slaaphempie (daarvandaan kom die verkeerde berig dat ek in my slaaphemp dorptoe ingevlug het). Ons vlug toe almal, ons was agt vrouens en omtrent 19 kinders,’n lot kinders, vandag sou dit uiters vyf of ses kinders gewees het. Toe ons omtrent ’n tweeduisend tree weg was dag ek nee, die kinders huil so baie, ek sê vir Frans Riekert (hy was ongeveer 12 jaar oud) kom ons vlug weg van die ander af. Tot my ongeluk - of geluk (die lesers moet oordeel) ek dra my kind wat baie groot en vet was, slapend op my arms. Ek vlug toe na die Noord-Ooste rigting. Frans en ek sien ’n swartmens ’n end voor ons teen die lig van die huise, hy spring weg van my af terug na die ander klomp. Ek neem die rigting van die dorp af weg wat ook die rigting is van die brandende huise. Later dag ek nee, ek gaan liewers terug na die dorp se rigting - miskien is dit die stat Kana se swartmense wat so moordlustig is. Ek verander my rigting en gaan toe direk dorp toe. Ek was teen dagbreek so moeg en nat van die dou op die gras, wat meer as 2 voet hoog was, dat ek besluit om ergens te gaan rus. Ek was naby klipkoppies hiervandaan oorkant die rivier (dorpsrivier). Ek gaan toe op ’n klip onder die boompies sit, die koppetjie was naby die Kana-pad - pluk toe saggies takkies en steek tussen die bome in, want die maan het intussen helder begin skyn. Later het die voëltjies begin wakker word en mekaar wakker geroep. Tussentyd het die vure (huise se brand) minder geword. Net toe dit goed lig geword het, het ek opgestaan en begin loop. Daardie tyd was die proefplaas nog nie aangelê nie, alles was nog natuur. Ek sukkel deur die drif, want al die tyd moes ek my kindjie dra. Net toe ek by die eerste huis aan die onderend van die dorp kom, was die kakies besig om meer vrouens weg te vat, die familie Harmse, Michiel Harmse se vrou. Die offisier wat in bevel was kom dadelik na my toe en vra waar dat ek heen gaan, ek sê “praat jy nog”. Julle dronk spioen swartmense het die huise aan die brand gesteek en ons het gevlug. Ek vertel hom toe alles. Hy sê nee dis boere. Ek sê toe vir hom as dit boere was, sou ek saam met hulle gegaan het, dan sal ek mos nie hierheen kom nie. Ek wens dit was boere sê ek. Hy het my toe met drie gewapende kakies laat bring tot by my suster, mev. W.S. Lampen, ek was nog so siek van die dissentrie. My suster het so geskrik toe ek so vroeg in die môre deur gewapende kakies daar by haar gebring was. Die meneer offisier het net al die vrouens laat oplaai en weg gestuur. Dit was my skoonmoeder met haar dogters, mev. Piet Erasmus en haar vyf kinders, my suster mev. Nicolaas Theunissen met haar kinders, mev. Herman Lampen met haar seuntjie. Almal word oor Olifantsnek gestuur (gelukkig was die boere naby, omtrent ses myl in die rantjies by Rooikloof).

 

Ek was omtrent ’n uur by my suster mev. Lampen, ek het ’n bietjie op die bed gaan lê om te rus. Toe kom die mnr. my weer haal met gewapende tommies. Ek sê toe gaan aan, ek loop nie saam met julle nie ek sal kom, ek het ’n end van hulle af geloop agter aan. Die hele dag moes ek verklarings afgee. Ek was omtrent ’n uur in die kantoor toe die ander vrouens wat ook gevlug het ook aangemarsjeer word. Die Kakies het dadelik’n halwe leër na Paardekraal gestuur. Al die orige families laat oplaai en dorp toe ingebring. Hulle kry toe die ou meneer Hermitage die ou spioen vermoor, hy het die swartmense gedreig om te skiet of na hulle geskiet en toe het hulle hom gruwelik vermoor. Van sy kombuisdeur af tot onder die wa wat omtrent 15 tree daarvandaan gestaan het was daar net harsings en bloed. Mev. Hansie Riekert en Burrie Riekert het gaan kyk en weer later vir ons vertel. Dus het dit hom niks gehelp om vir die vyand gemene werk te doen nie. Die twee mevroue sê toe dat ons kamers nog net so ongeskonde was as toe ons uitgegaan het. Die dag het die kakies ons goed verwoes, beddens, kussings oopgesny, klere alles verniel ens.

 

Die kakies het ons toe tot Sondagmore in my skoonmoeder [Johanna Magdalena van Rooyen, red] se huis gehou (laat bewaak). Kos moes ons van familie kry. Ons moes op die vloere slaap sonder beddegoed, gelukkig was dit somer. Sondagmôre hou twee lorries voor die deur stil ons moes opklim. Toe ons op pad was sing ons psalms en ook ander liede, toe ons naby die Engelse kamp en blokhuise op Olifantsnek kom sing ons "Kent gy dat Volk", "Die Vierkleur" en "Op op met die Vierkleur". Op die nek moes die trollies eers stilhou om permissie by die wagte te kry om deur te gaan, hoe het die son ons gebrand.

Ongeveer twaalfuur hou hulle by’n paar huise waar tente opgeslaan is stil. Toe die vrouens uitkom was dit my skoonmoeder, skoonsuster en eie suster wat twee dae gelede uitgestuur is, was ons nie bly nie. Ek was so moeg en siek, maar ook kwaad en vies. Toe die trollies stil hou het die offisier vir ons mooi laat verstaan - dat as ons oor die kruispad gaan, naamlik die pad na Krugersdorp oor Rooikloof, sal die meksim (maxim) op ons gestel word. Dus’n drie honderd tree van ons af. Ons was nog besig om al die gebeurtenisse te vertel toe ’n jong swart vrou by ons in die tent kom,’n rukkie staan, buk en’n briefie uit haar kous haal. Dit was’n briefie van my swaer Michiel du Plessis en my broer Jan Heystek. Hulle skryf: “ons is hier in die rante en Kommandant Piet Steenkamp is besig met onderhandelinge met die Engelse om julle uit te lewer aan ons”.

 

Môre Maandag sal hy die antwoord van die Engelse Kommandant kry. Ek was besig om my kindjie soep te gee, toe hy klaar was staan ek op, vat hom en sê ek loop na die boere toe. My skoonmoeder en suster soebat en huil en sê nee bly tog tot ons hoor wat sal môre gaan gebeur. Maar ek loop. Toe ek ’n end weg was kom mev. Bettie Berg met haar kind ook. Ons was omtrent ’n paar honderd tree ver, nog nie by die kruispad wat ons besig is om oor te gaan, toe my skoonmoeder, skoonsuster en mev. Lampen ook aanlope kom, ons het toe sonder hindernis deur gestap tot by die rantjies. Daar ontmoet ons my broer Jan Heysteken swaer Michiel du Plessis, die ontmoeting was baie aandoenlik. Die twee broers het ons toe na mnr. en mev. Daniël Erasmus se huis geneem waar ons baie hartlik ontvang is. Hulle het ons almal etes gegee. Toe is ons daarvandaan vervoer met kar en perde.

 

Na Wysfontein

Eers wil ek vertel dat toe ons by my broer aangekom het, het hulle aangeraai dat party van ons moet terug gaan. Daar sou net antwoord van Olifantsnek se offisier gekom het dat die vrouens môre sal uitgelewer word. Die Kommandant moet waens stuur maar mag nie met die pad ry nie, maar deur die veld en oor die rante moes die waens gaan. My suster mev. Theunissen, skoonsuster Erasmus, Riekert vrouens en mev. Lampen het toe saam met die waens gery. Dit was so erg dat hulle moes loop. Sommige plekke moes die waens teengedruk word anders sou dit omgeslaan het. Die Dinsdagnag het hulle eers by ons gekom op die plaas Middelfontein by mev. Tollie de Beer. Daar was alles baie treurig. Die vyand het dikwels daar langs getrek en vernielings aangebring. Armoed en honger het daardie mense te verduur gehad. Die volgende dag is ons toe vervoer na Steenbokfontein. Die Maandag daarop is ons toe na Wysfontein. Daar het ons sewe maande gebly, sonder om ’n kakie te sien. Net altyd hoor ons van laers (Engelse) wat verby trek bo op die rant langs. Ons het baie onrustige dae en nagte gehad, moes partykeer in die rante vlug, ook snags. Einde Junie het my arme broer Jan maagkoors gekry, hulle het op Steenbokfontein gewoon. Ons het hom toe na ons vervoer 

waar hy na’n paar dae oorlede is. Hy het tog bitter gely. Ons moes self sy kis maak, gelukkig was my skoonmoeder en haar dogter baie gewillig en handig. Hy is die nag dood en die volgende dag het my swaer Lampen by ons aangekom en nog twee ander mans. Hulle het toe die graf gegrawe. Ander mans het op die rant wag gestaan. My man het toe ook gekom, want die kakielaer was net ’n dag te vore agter Generaal de la Rey aan. Ag was ons tog nie dankbaar toe die mans daar aangekom het nie, en so met onrus en gesukkel is my broer begrawe.

 

Eers 'n tentjie dan 'n huisie

Eers wil ek vertel hoe ons lewe op die plaas was. Ek self het ’n tent gehad waar ons in geslaap het. Goed gemeubileer, as ek so mag noem,’n dubbelbed, my seuntjie se bedjie, wastafel en toebehore,’n spieel, dan ’n paar stoele en kassies, vloer moes gesmeer word. Dan het ons ’n klein huisie gehad waarin ons gewoon het, ’n kombuis van sink. Ons het rondom gesmeer, alles was skoon en sindelik, op al die plase was die huise deur die vyand afgebrand. In Julie hoor ons skielik van’n Engelse laer wat weer aan kome is. Op ’n middag omtrent twee uur daag die Kakies met ’n Afrikaner 

en ‘n swartman by ons op. Jaag deur die koringlande, storm die huise, waar daar drie op die plasie was, ons was net besig om klaar te maak ingeval ons moet weggevat word. Soveel keer het ons dit gedoen. Ons beskuit was nog nie eers ’n halfuur in die oond nie, toe een van die Tommies die deur van die oond oopruk. Ons se vir hom die brood is nog nie gaar nie, maar by gryp sommer in die pan, brand en gooi die half rou beskuit neer. Hannie de Ridder storm hom, slaan hom in die gesig dat by terugdeins. Twee Tommies gryp elkeen ’n stuk hout, slaan die oond inmekaar dat die rou deeg so spat. Toe dit begin donker word het die offisier ons aangesê om more met sonop klaar te wees om saam met die laer te gaan. Ons huisies aan die brand gesteek, die tente afgetrek en die lyne af en alles verbrand. Alles wat ons weer bymekaar gemaak het, hoenders gevang en aan die saal gebind met die koppe na onder toe. Die aand ongeveer nege-uur was ons mans by ons, deur die Engelse wagte gekom. Ek wou saam met my man vlug, maar dit was baie gevaarlik. Ons het maar afskeid geneem met die hoop op weersiens en tog moes ons ou seuntjie vir goed in die Engelse grond begrawe word, tot die opstanding van alle mense. Die volgende dag nog voor son op was die Tommies voor die deur, storm sommer af op die arme hoenders wat die vorige aand weggekruip het en die varke moes dit ook voel. Hulle vang die speenoud varkies, bind hulle agterpootjies aan die saals, die groter varke wat hulle kon bykom met die bajonette. Het hulle in die hardloop middeldeur gekap, so het hulle’n wit vark van my wat ons wit ut genoem het, ook in die middel net so op die weke (die hol plek aan die rugkant net voor die heupknop van die agterbeen) deurgekap, die agterste deel aan die saal gebind. Die voorste deel het my man die volgende dag bewerk vir seep, want toe die Engelse laer verbygetrek het, het die mense weer vir ’n paar dae rus om met die boerdery aan te gaan. Tenminste net na die Kakielaer weggetrek het, kon die mans wat om die beurt verlof kry, om die koring wat nog oor is water te lei.

 

Ons was twee-en-twintig wit siele, met twee swartmense, die drywer en leier op’n kaal bokwa. Ons moes onder die wa slaap, die osse was altyd aan die jukke vasgemaak. Dit was baie koud onder die waens want dit was Julie. Saans ongeveer elfuur, ook soms later, het ons eers tot slape gekom, en baie nagte blaas die alarm. Dan moet ons haastig op holster de bolster op die waens en vort, so koud, dan trek hulle met ons party dae tot laat in die middag. Dan na oos en dan na wes, na noord en na suid oor die rantjies waar nie eens ‘npad is nie. Een môre vroeg, ons moes ook weer in die middel van die nag op, hoor ons geweerskote en meteens vlieg die kakies te perd rond. Skreeu en laat al die waens waar die vrouens op is (dit was by ’n dertig waens met families, miskien meer. Want sover as die laer trek brand hulle die huise af, of verniel die plase. Vat al die lewende diere saam en wat hulle nie kan saamvat nie skiet hulle dood of steek dood met die bajonette). Bo op die rantjie langs mekaar moes ons trek en hulle skiet bo-oor ons. Ons moes van die waens afklim en skuiling soek waar nie eens skuiling was nie. Die middag teen vier uur het ons toe by Wilgerivier vir die eerste keer kon kos gaar maak. Daar hoor ons toe dat die boere wat in hulle lande water gelei het op die voorposte van die Engelse geskiet het. Een dood, die het hulle ook daar begrawe, paar gewond, ons kon nie uitvind of van ons mense ook dood of gewond was nie. Die offisier het vir ons vrouens laat weet dat hulle al die boere doodgeskiet het, maar ons het vir die verraaier gesê ons glo dit nie.

 

 

Word vervolg

 

Lees ook

Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 1

Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 3

Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 4

 

Deze publicatie in de Afrikaanse taal is mogelijk geworden dankzij de medewerking van mw. Marie Hattingh (Rayton, Zuid-Afrika). Zij heeft schrijffouten in de teksten gecorrigeerd.

 

 

 

 

 
 

Plaats reactie


Beveiligingscode
Vernieuwen