Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 1

 

Emmarenske Heystek is op 82-jarige ouderdom in Pretoria oorlede. Gedurende die jaar voor en jare kort na haar huwelik het sy baie meegemaak. Dit was die jare van die oorlog teen die Engelse (Tweede Vryheidsoorlog – 1899-1902). Baie jare later het sy haar herinneringe aan die dramatiese tyd aan papier toevertrou. Gelukkig is hierdie dokumente vir die nageslag bewaar. Dit gee ons nou insig wat in daardie tyd afgespeel het. In drie publikasies kan jy op hierdie familiewebtuiste  meelees wat sy onthou het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Genealogie

Emmarenske Petronella Margarethais op die 18de Mei 1879 in Suid-Afrika gebore. Sy is 'n dogter van Jan Heystekwat in die jaar 1862 met haar  vader en moeder, sewe broers en twee susters vanuit die bekende Nederland, vir hulle, na die  onbekende Suid-Afrika gekom.

In Rustenburg waar hulle kom woon het, ontmoet Emmarenske die jongman Theunis Christiaan du Plessis. Sy was negentien jaar oud, enop 5 Oktober 1898 trou hule  in haar tuisdorp met Christiaan wat toe 23 jaar oud was. Hy is 'n seun van Hendrik Johannes Marthinus du Plessis en Johanna Magdalena van Rooyen.

 

 

 

Haar relaas

Dit is nou byna nege-en-dertig jaar gelede dat die oorlog tussen die Boere en Engelse uitgebreek het. ‘n Tyd voor die oorlog uitgebreek het (verklaar is) (dit moes in Augustus en September gewees het) was die Staatspresident hier vir ‘n vergadering, soos hy en die volksraadslede altyd gedoen het. Ek was ook daar, nog maar betreklik jonk en ook maar ongeveer kort getroud. My man was Publieke Aanklaer en Eerste Landdrosklerk en was self ook op die vergadering, wat toe altyd byeenkomste genoem was. Toe die President alles van die binne- en buitelandse politiek duidelik gemaak het, onder andere dat ons in ‘n oorlog met Engeland sal kom, as die Republiek se regering nie alles wil toegee wat die Engelse wil hê nie byna uit al die monde was die antwoord "skiet die rooinek"!

 

 

 

Oorlog

Op 11 Oktober 1899 is die oorlog geproklameer, alles in rep-en-roer en die opgewondenheid wat onder die mense was. Beskuit bak, dröe koekies, slag en wors maak vir die burgers, gepak, gepraat dit sou uiters ses maande duur. Dit was gedoen vir die Afrikaanders (soos ons hulle genoem het),  makkakies nie so veel vir die Engelse gehelp nie - en as die Engelse ook nie die swartmense teen ons opgemaak het nie sou dit uiters 12 maande geduur het.  Dan sou Buller sy wit vlag ook moes hys so as Jameson. Die oorlog was aan die gang.  Alles het rooskleurig gegaan toe val die swartmense die boere laer aan. Lintsee se swartmense saam met wit mense (onder andere ’n naturellekommissaris wat hier in Rustenburg gedien het onder die SAP-regering) met kannonne en gewere. Alles wat vernietigende werk kon verrig tussen die boere, moord en doodslaan het plaasgevind. Die vrouens en kinders wat op die plaas Derdepoort gewoon het is weggevoer. Deur die rivier moes hulle loop wat daardie tyd baie water gehad het.

 

Van die vrouens, Riekerts, Potgieters het my vertel die water byna tot hulle mae was en moes hulle kinders deurdra, die swartmense het hulle aangejaag. Toe die rapport hier aankom het dit ‘n vreeslike sensasie verwek. Al die mans was op kommando, selfs al die seuns wat kon veg was weg, net die oumans het tuisgebly, die boerevrouens het in laers getrek - moes selfs ook snags wakker bly om te luister as die swartmense aanval op die laer wil maak.

 

Twee van my eie susters was in die laer, mev. Roets nou Rootman [Helena Catharina Heystek; red] en mev. Theunissen [Anna Maria Heystek; red]. My man moes die dag toe die rapport hier aankom met elf ander (‘n dokter ook by) na die slagveld of moordlaer gaan,gedryf deur die opstandige swartmense. Ons moes toe hier op die dorp self ook wag hou, net 'n paar oumans was hier en party was ook maar baie lugtig. Ons vrouens, van wie, die mans gaan veg het, het in huise by mekaar gaan slaap, naby die Gereformeerde Kerk (my kerk waaraan ek behoort). So as daar ‘n aanval sal kom moes ons almal in die kerk vlug. So het die ellende aangehou tot in Januarie 1900 (want in 1899 het die oorlog begin). My man het toe drie weke verlof gekry - hy is toe na Natal se kommandos, waar sy broers en swaers was. Ek is toe na my ouers wat toe in Pietersburg gebly het. My vader was Landdros daar. In sy huis het toe 'n artillerie gebly. Ook ’n maxim(kanon)  was by my vader in die huis wat as daar iets met die swartmense sou voorval gebruik kan word. Want die swartmense was daar altyd oproerig, ook in vredestyd, daar was opstokers genoeg. Na die drie weke het my man my op Pietersburg kom haal. Sy spider het ons in Pretoria by Kommandant Koos du Plessis (‘n goeie vriend van my man) agtergelaat. Ons is toe van Pretoria af weg, ongeveer die end van Januarie, vreeslik reën het deur die hele Transvaal, Vrystaat en Natal geval. Ons het die aand laat in Pretoria aangekom, nog dieselfde aand het ons na tussen Krokodil- en Magaliesrivier waar daar ’n soort van 'n winkel met herberg was getrek.  Daar het ons geslaap en dan maar weer elke môre terug huistoe, die mense wat siek was het daar gebly deur die dag ook.

 

 

In tronk

Toe Baden-Powell ons dorp inneem na Mafeking se ontset was ons geluk as Afrikaanders op ’n end. In dieselfde jaar het B. Powell aan die end van Junie of begin Julie die dorp verlaat. Alles wat aan die regiment behoort het wat agter moes bly het hulle vernietig. Ons was almal baie bly, behalwe die jingo (verengelsde afrikaner) klompie, want nou sal die boere weer inkom. Kommandant du Plessis was ongeveer twaalf myl aan die noord ooste kant van die dorp, wat ons noem die swart of turfkoppe. Almal was toe maar baie verbaas oor die onverwagte wegvlug van die kakies (engelse), so het almal hulle genoem. Die anderdag more vroeg is my man, te perd, natuurlik na Kommandant Piet Steenkamp aan die suidekant van die dorp. Om  te rapporteer die swartmense kan elke dag of liewers nag ’n aanval op die dorp gemaak het. Twee of drie dae (miskien ook langer) was die kakies weer terug, maar nie weer Baden-Powell nie ‘n ander lot. Die volgende dag word my man na die kantoor geroep. Die dag daarop is hy as krygsgevangene in die tronk, sy broer en ander vriende was al in die tronk. Onder die beheer van Baden-Powell het my man en ek ’n paar gewere, 1000 mauser patrone begrawe. In geval die Boere in die dorp kom sou ons dit vir hulle gegee het. Die gewere het ons toe ook uitgehaal, die patrone kon ons nie uithaal voor die Engelse in die dorp was nie. My man was ’n maand in die tronk, ek en die ander vroue het elke middag na die tronk gegaan vir besoeke. Na ‘n maand het die spulletjie weer begin. Mense is aangesê of liewers die handsoppers (Engels gesinde Afrikaners), om saam met die kakielaer na Pretoria te gaan. Die gevangenis is ook aangesê om oor twee dae te vertrek. Ek het toe my man se klere reg gemaak (hy het sy eie beddegoed in die tronk gehad). Die dag voor die vertrek het ek sy klere, beskuit, klein koekies, geld vir hom gaan gee. Die afskeid was maar swaar, toe ek hom groet sê hy - ek sal wegloop, jy moet my verwag.

 

 

Nie onder die vyand werk nie

Eers moet ek vertel waarom die makkakies-handsoppers (verengelsde afrikaners) (so het ons hulle genoem), so afgunstig op my man was. Die offisier van die regiment wat daarmee belas was, Kaptein Graham, het my man laat roep en gesê - ons wil hê jy moet jou werk op die landdroskantoor kom waarneem (hulle het seker gedink dan sal dit meer tevredenheid onder die Boere gee). My man wou nie inwillig nie. Hy wou nie onder die vyand werk neem nie, hy wou weg na die kommandos as hy ’n kans gekry het. Die hele nag voor die vertrek het die kakies al die ammunisie aan die brand gesteek wat hulle nie wou of kon saamvat nie, dit was’n gedonder tot die môre. Twaalf uur die dag was vir ons tog baie swaar, want ons weet nie wat van ons mans en ander mense gaan word nie.

 

 

Word vervolgd

Lees ook:

Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 2

Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 3

Boereoorlog; persoonlike herinneringe van Emmarenske Petronella Margaretha Heystek deel 4

 

Deze publicatie in de Afrikaanse taal is mogelijk geworden dankzij de medewerking van mw. Marie Hattingh (Rayton, Zuid-Afrika). Zij heeft schrijffouten in de teksten gecorrigeerd.